Bekommernis? Maak so...

Bekommernis?  Maak so...

Geloof en bekommernis is nie vriende nie. Inteendeel. Bekommernis is 'n geloofsdief. Psalm 37 bied egter 'n paar belangrike beginsels om vir altyd uit bekommernis se kloue te ontsnap:

"Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie" (vers 1). Los die skelms vir die Here. Hy het hulle naam en adres. Hy sal met hulle afreken.

"Glo in die Here" (vers 3). Kies om jou aandag net op God te fokus. Kyk weg van negatiewe dinge; kyk na God. Kies elke dag van voor af om aan Hom vas te hou

"Doen goeie dinge vir ander mense" (vers 3). Raak betrokke by ander. Jy is geroep om 'n impak in die wêreld te maak. Wees 'n lewende inspirasie vir mense rondom jou. Sorg dat jou naam en adres by minstens een een persoon land wat regtig swaarkry. Wees die hande en voete van ons Here vir mense in nood.

"Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê" (vers 4). Kies vir vreugde, die Here se soort. Wees bly dat die Here jou ken en liefhet. Nee, jy is nie maar net 'n nommer hier op aarde nie. Jy het Koninklike bloed in jou are, Christus S'n.

"Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Glo in Hom; Hy sal jou op die regte pad hou" (vers 5-6). Meld daagliks aan vir aktiewe diens by die Here. Vertrou God blindelings om jou lewe op sy regte pad te hou.


Comments