“Nie-verhandelbares”
(“Non-negotiables”) — Deel 1
Stephan Joubert (e-kerk 4
Maart 2012)
Op
‘n dag sit ek en ‘n vriend en gesels oor die “non-negotiables”
van die evangelie, soos wat hy dit gestel het. Nou ja, wat is die
absolute minimum waarop ons geloof as navolgers van Christus staan?
Paulus gee ‘n interessante antwoord hierop in Romeine
14:17 as
hy skryf dat die evangelie nie ‘n saak van vleis en drank is nie,
maar van vryspraak voor God; vrede en blydskap in die Heilige Gees.
Anders gestel, die evangelie gaan oor ‘n lewensveranderende
verhouding met die lewende God. Hierdie is die ABC van ‘n
deurleefde evangelie. Maar waarop word hierdie evangelie vanuit die
staanspoor gebou?
Die
ankerpaal van ons geloof is die lewende belydenis dat Jesus die Here
is... en ook dat die Christus Jesus is. In 1
Johannes 2:22 lees
ons dat leuenaars diegene is wat ontken dat Jesus die Christus is —
soos wat meeste vertalings dit weergee. Tog wys vele
Skrifverklaarders daarop dat die Griekse taalkonstruksie in vers 22
die woord “die Christus” eintlik tot subjek gemaak het (omdat ‘n
voornaamwoord voor Jesus ontbreek). Vandaar dan die meer opruiende
vertaling: Die
Christus is Jesus (vgl.
ook 1 Joh 5:1). Mooi, né! Johannes doen dit doelbewus omdat sekere
dwaalleraars in sy geledere die menswees van Jesus en sy lyding aan
die kruis ontken het. Daarom dat hy hier skryf dat die Messias die
aardse Jesus is wat gesterf en fisies uit die dood opgestaan het. Op
presies dieselfde wyse noem Johannes ook dat die Seun van God Jesus
is (1 Joh 4:15; 5:5).
Die
Nuwe Testament stel nie slegs in Jesus se leringe belang nie, hoe
aardskuddend belangrik dit ook al is. Jesus se Persoon, tesame met
die weggee van sy eie lewe aan die kruis en sy sterwe en opstanding,
is die ononderhandelbare pilaar van die Nuwe Testament. Anders is
Jesus maar net nog ‘n goeie rabbi, of nog ‘n Joodse profeet.
Christus is egter die Here; Hy alleen. Hy is die Pad en die
Eindbestemming in dieselfde asem. |